top of page

Die Wet op Verbruikersbeskerming en aankoop van foutiewe produkte: jy het ook regte!

Wanneer jy ‘n foutiewe produk gekoop het, is dit gerustellend om te weet dat in terme van die Wet op Verbruikersbeskerming jy as verbruiker nie sonder remedie is nie. Maar om jou opsies te ondersoek, moet jy verstaan waarvoor die Wet voorsiening maak.

Neem die volgende geval as voorbeeld. Andy het onlangs ‘n elektriese toestel by ‘n winkel gekoop. Die verkoopspersoon het vir hom gesê die produk sal aanpasbaar wees met sy nuwe iPhone. Andy het toe opgewonde huistoe gejaag, net om te vind dat die toestel toe nié aanpasbaar is met sy nuwe iPhone nie. Huiwerig om ‘n bohaai op te skop en steeds in staat om die toestel gedeeltelik te gebruik, het Andy aangehou om die item te gebruik, net om te vind dat die toestel ‘n paar dae later heeltemal die gees gegee het en nie meer aangeskakel kon word nie. Woedend vir beide die verkoopspersoon wat hom oortuig het om die produk te koop, asook die winkel omdat hulle ‘n produk aan hom verkoop het wat so maklik breek, jaag Andy terug na die winkel om die produk om te ruil.

By die winkel word Andy verwys na die omruiltoonbank. Ná hy die situasie aan die assistent verduidelik het, word Andy die omruil-kennisgewingbord gewys waarop staan dat dit die winkel se omruilbeleid is dat foutiewe produkte binne veertien dae vanaf datum van aankoop teruggebring moet word vir omruiling of terugbetaling. Aangesien sy strokie wys dat dié item vyftien dae gelede aangekoop is, wil die winkel hom nie terugebetaal of die item vervang nie en adviseer hulle hom om eerder die verskaffer direk te kontak om uit te vind oor ‘n terugebetaling of vervanging. Daarby stel die assistent Andy ook in kennis dat dit sy veranwoordelikheid was om die produk se aanpasbaarheid met sy iPhone vooraf vas te stel en dat die winkel dus nie aanspreeklik gehou kan word vir die gebrek aan aanpasbaarheid nie.

Baie verbruikers vind hulself in ‘n situasie soos dié van Andy. So nou is die vraag waarvoor die Wet voorsiening maak as dit kom by foutiewe produkte en die gepastheid van die produk vir die gebruik waarvoor dit gekoop is.

Die Wet bepaal dat ‘n ‘fout’ “enige materiële onvolmaaktheid in die vervaardiging van die goedere of komponente, wat die goedere minder aanvaarbaar laat as wat mense oor die algemeen redelik geregtig is om te verwag onder omstandighede, of enige kenmerk van die goedere of komponente wat die goedere of komponente minder bruikbaar, uitvoerbaar of veilig laat as wat mense oor die algemeen redelik geregtig sal wees om te verwag onder omstandighede” kan wees.

Die Wet stel dit verder dat elke verbruiker die reg het om goedere te ontvang wat:

  • redelik gepas is vir die doel waarvoor dit oorspronklik bedoel is;

  • van goeie kwaliteit is, in goeie werkende toestand is en sonder enige defekte (hoewel ‘n mens in ag moet neem dat waar ‘n verbruiker spesifiek ingelig is dat goedere in ‘n sekere toestand aangebied is en die goedere in daardie toestand aanvaar is, die verbruiker nie daarna kan sê dat die goedere foutief is nie. In Andy se geval sal hy egter daarop kan aanspraak maak dat die goedere foutief was ongeag of hy die defek kon vasstel op die tyd van aankoop);

  • bruikbaar en duursaam is vir ‘n redelike tydsperiode, in terme van die doel waarvoor dit gewoonlik aangewend sal word; en

  • voldoen aan enige toespaslike standaarde soos uiteengesit onder die Wet op Standaarde of enige ander openbare regulasie.

Om vas te stel of goedere voldoen aan die vereiste van veilige, hoë kwaliteit goedere, moet ‘n mens al die omstandighede oorweeg rakende die verskaffing van daardie goedere, wat insluit:

  • die manier waarop, en die doel waarvoor, die goedere bemark, verpak en vertoon is; die gebruik van enige handelsbeskrywing of –merk; enige instruksies of waarskuwing wat betref die gebruik van die goedere;

  • die verskeidenheid van dinge wat ‘n mens redelik kan verwag om met die goedere te doen; en

  • die tyd wanneer die goedere vervaardig en verskaf is.

Gevolglik is dit irrelevant of ‘n produk se defek verborge of sigbaar was, en of die verbruiker dit sou kon bespeur voordat hy ontvangs van die item geneem het.

Wat betref die aanspraak van die assistent dat die iPhone-aanpasbaarheidskwessie nie die winkel se probleem is nie, verskaf die Wet antwoorde deur te sê dat as ‘n verbruiker die winkel spesifiek ingelig het van die bepaalde doel waarvoor hy die goedere wil aanwend en die winkel (deur sy verkoopspersoneel) tree op in ooreenstemming met die wete waarvoor die goedere gebruik gaan word, het die verbruiker die reg om te verwag dat die goedere redelik gepas sal wees vir die spesifieke doel wat hy aan die verkoopspersoneel gekommunikeer het. As die verkkoopspersoneellid Andy verseker het dat hy kundig was en dat die produk aanpasbaar is met sy iPhone, kan die winkel verantwoordelik gehou word vir aanpasbaarheids-probleme van die produk.

Laastens bly die vraag of die omruiltoonbank se vrywaring wat omruiltransaksies of terugbetalings ná veertien dae verbied, die winkel sal beskerm teen die terugbetaling of omruil van Andy se foutiewe produk.

Hier kom die Wet weereens tot die redding deur te bepaal dat in enige transaksie vir die verskaffing van goedere (soos Andy se kooptransaksie) is daar ‘n geïmpliseerde waarborg dat die goedere sal voldoen aan die standaarde hierbo uiteengesit, mits die verbruiker nie die goedere verander of daarmee gepeuter het nie, of dit gebruik het op ‘n manier wat teenstrydig is met die instruksies nie. Waar goedere nie voldoen aan hierdie standaarde nie, mag die verbruiker die goedere vir die winkel teruggee sonder enige penalisasie, binne ses maande vandat die goedere afgelewer is, en die winkel moet dan die foutiewe goedere herstel of vervang, of aan die verbruiker die volle koopprys wat betaal is, terugbetaal.

Die winkel sal dus nie hulle veertien dae-periode kan gebruik om verantwoordelikheid vir die omruil, vervanging of terugbetaling van Andy se gekoopte produk te ontduik nie en Andy kan sy geld terugvra of vra om die produk om te ruil vir ‘n item wat werk.

Hoe gerustellend om te weet dat die CPA die verbruiker beskerm teen die oorywerige verkoopspersoon wat die wêreld belowe en die winkel wat die verantwoordelikheid vir foutiewe produkte probeer terugskuif op die verbruiker.


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags
No tags yet.
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
bottom of page